Die toneelstuk, Kruger breek die pad oop speel in 1863 af – kort na die trekkerstate (Vrystaat en Transvaal) hulle onafhanklikheid deur Engeland erken gekry het. Dit is van die moeilikste en donkerste tye in die geskiedenis van die Boere-republieke en daar heers wanorde en verdeeldheid in Transvaal.
Partyleiers en partye beveg mekaar, verkiesings word aanhoudend as ongeldig verklaar, ooreenkomste word verbreek en dan word daar telkens na die wapen gegryp vir beslissing.
En dan tree die 38 jarige Kruger in met die volgende woorde aan President Pretorius: “Hier in Transvaal moet ons die wet leer ken en die wet leer gehoorsaam, anders gaan ons staat ten gronde, ons almal, ek, Oom, en Schoeman, en elke man in hierdie land: Ons gehoorsaam die wet. Selfs as ons weet hy is sleg, gehoorsaam ons hom totdat hy beter gemaak word”.
Hierdie harde maar baie waar uitspraak bring noodlottige en baie hartseer gevolge – maar uiteindelik is dit die enigste uitweg vir vooruitgang in ‘n vrye republiek.
Hierdie toneelstuk gee insig en laat jou verstaan waarom Paul Kruger so groot leiersfiguur en simbool van Vryheid vir die Afrikaner is.